Bin Laden dreig Franse oor sluier-wet
2010-10-28 08:00
Kaïro. – Die leier van Al-Kaïda, Osama bin Laden, dreig in ’n nuwe oudiokasset om Franse burgerlikes te vermoor in weerwraak vir hul land se steun aan die Amerikaans-geleide oorlog in Afganistan en ’n nuwe wet wat Moslem-gesig-sluiers in Frankryk verbied.
In die kasset wat deur die nuuskanaal Al-Jazeera bekom is en Woensdag op hul webblad geplaas is, sê Bin Laden dat Frankryk die Amerikaners help om Moslem-vroue en -kinders dood te maak, in ’n oënskynlike verwysing na die oorlog in Afganistan. Volgens hom was die ontvoering van vyf Franse burgerlikes in die Afrika-staat Niger verlede maand ’n reaksie op, wat hy noem, Frankryk se onderdrukking van Moslems.
“Hoe kan dit reg wees dat julle deelneem aan die besetting van ons land, die Amerikaners steun in die doodmaak van ons vroue en kinders, en tog in vrede en veiligheid wil leef?” het Bin Laden op die kasset gesê.
“Dit is ’n eenvoudige en duidelike vergelyking: as jy doodmaak, sal jy doodgemaak word. As jy ons sekuriteit bedreig, sal jou sekuriteit bedreig word. Die manier om jou sekuriteit te waarborg is om op te hou met jou onderdrukking en die impak daarvan op ons nasie, die belangrikste waarvan jul onttrekking aan die onverstandige Bush-oorlog in Afgani-stan.”
Die egtheid van die kasset kon nie onmiddellik geverifieer word nie.
Daar is 4000 Franse troepe ontplooi in of naby Afganistan.
Die land het vandeesmaand ’n omstrede wet aanvaar wat die dra van burka-styl Moslem-gesigsluiers in die openbaar verbied. Talle Moslems het hul vrees uitgespreek dat die wet hulle kan stigmatiseer.
“Indien julle dit as jul reg beskou om (Moslem-) vroue te verbied om die sluier te dra, dan is dit tog seker ons reg om jul besettingsmag te verdryf deur hulle aan te val?” het Bin Laden vervolg.
“Die ontvoering van jul burgerlikes in Niger is ’n reaksie op jul onderdrukking van Moslems.”
’n Reeks waarskuwings het Frankryk en ander Europese lande die afgelope paar weke op hul hoedens en het die Amerikaanse departement van buitelandse sake genoop om burgerlikes wat in Europa bly of reis aan toe moedig om voorsorg te tref.
Bespiegeling oor die bron van ’n moontlike terreuraanval op Frankryk fokus op die Al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb, ’n terreurgroep gevestig in die noordweste van Afrika.
- Sapa - AP