Bin Laden bekommerd oor klimaat
2010-10-02 08:03
Doebai – Osama bin Laden het sy kommer oor globale klimaatsverandering en die vloede in Pakistan uitgespreek in ’n bandopname wat op die internet geplaas is. Dit was vergesel van videobeelde van Bin Laden.
Dit is sy eerste openbare opmerkings sedert Maart, het ’n moniteringsgroep gister gesê.
“Die slagoffers van klimaatsverandering is baie... meer as die slagoffers van oorloë,” het die stem gesê. Dit is deur die SITE-intelligensiegroep beskikbaar gestel, en kon nie dadelik as eg geverifieer word nie.
Dit is onduidelik wanneer die opname gemaak is, maar Bin Laden het Moslems geluk gewens met die heilige vasmaand, Ramadaan, wat op 10 September geëindig het.
Bin Laden het ’n reeks voorstelle gemaak oor hoe om klimaatsverandering te pak.
“Die verskaffing van tente, kos en medisyne is ’n diens...maar die rampe (waardeur baie Moslemlande in die gesig gestaar word) is baie groter as die hulp wat aangebied word.
“Aksie moet nie beperk word tot die verskaffing van noodhulp nie...maar om ’n bekwame noodhulpmag saam te stel.”
In een van twee opnames wat in Januarie bekend gestel is, het Bin Laden die groot nywerheidslande die skuld gegee vir klimaatsverandering. Volgens die Amerikaanse ministerie van buitelandse sake toon dit Bin Laden sukkel om relevant te bly.
In sy mees onlangse uitlating het al-Kaïda gewaarsku dat hy Amerikaners sal doodmaak as die vermeende baasbrein agter 9/11, Khaled Sheikh Mohammed, tereggestel sou word.
– Sapa-AFP
* Sluit aan by Nuus24 se Facebook-gemeenskap.
- Die Burger