Bin Laden: Obama 'magteloos'
2009-09-14 10:03
Washington - Osama bin Laden sê die president van die VSA, Barack Obama, is "magteloos" om die oorlog in Afganistan te beëindig.
Bin Laden se organisasie, Al-Kaïda, het die opmerking Sondag as deel van ’n video-toespraak vrygestel, twee dae ná die herdenking van die 9/11-aanvalle op die Twin Tower-geboue in New York in 2001.
SITE Intelligence Group, ’n maatskappy wat terroriste-aktiwiteit monitor, het die toespraak vertaal.
Volgens SITE het Bin Laden die VSA se verhouding met Israel, sowel as Amerikaanse maatskappye se finansiële belange in ander wêrelddele, as redes vir die aanvalle aangevoer.
Die doel van die jaarlikse toespraak, het Bin Laden gesê, is om die VSA te herinner aan die oorsake van die 9/11-terreuraanvalle.
Dié aanvalle was hoofsaaklik te wyte aan Amerika se "ondersteuning van Israel, wat ons grond in Palestina beset," het Bin Laden gesê.
Volgens die Al-Kaïda-leier is dit duidelik dat Obama magteloos is om die oorlog in Afganistan te beëindig omdat hy die voormalige president, George W. Bush, se militêre leiers in sy regering gehou het.
Hy het verder beweer dat die Obama-regering Bush se strategie voortsit deur vreestaktieke te gebruik om die markbelange van groot maatskappy te bevorder.
- Sapa-AFP