Bewyse in Knox-saak moet weer getoets word
2010-12-18 21:10
Perugia, Italië - 'n Appélhof in Italië het Saterdag beveel dat belangrike forensiese bewyse in die saak van Amanda Knox, die Amerikaner wat skuldig bevind is aan die moord op haar Britse kamermaat, opnuut getoets word.
Dié bevinding word as 'n belangrike oorwinning vir Knox se appél beskou wat teen aanstaande jaar afgehandel sal wees.
Daar sal nuwe DNA-toetse uitgevoer word op die vermoedelike moordwapen, 'n kombuismes wat in die huis van Knox se eks-kêrel, Raffaele Sollecito, gevind is.
Aanvanklike uitslae het Knox se DNA op die handvatsel gewys en die slagoffer se DNA op die mes se lem.
Knox is verlede jaar tot 26 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Kercher (21).
Regter Claudio Pratillo Hellmann het ook beveel dat nuwe DNA-toetse op die gespe van Kercher se bra uitgevoer word.
Sollecito, wat 25 jaar tronkstraf ontvang het en saam met Knox appél aanteken, se DNA is op die gespe gevind.
Kercher se halfnaakte lyk is in 'n poel bloed in haar kamer op 2 November 2007 gevind. 'n Derde persoon, Rudy Guede, is tot 16 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Kercher.
Volg Nuus24 op Twitter.