Bewustelose vroue in veld gelos ná operasies
2013-02-07 18:00
Kolkata – Tientalle vroue is bewusteloos in ‘n veld gelaat ná ‘n massa sterilisasie in die ooste van Indië omdat daar nie plek in die hospitaal vir hulle was om te herstel nie, het mediese beamptes Donderdag gesê.
Die vroue het almal operasies by ‘n hospitaal in die Malda-streek van Wes-Bengal ondergaan. Beamptes erken die hospitaal is nie toegerus om so ‘n groot hoeveelheid pasiënte te akkommodeer nie.
Die skandaal het aan die lig gekom nadat die nuuskanaal NDTV amateur beeldmateriaal uitgesaai het van bewustelose vroue wat Dinsdag deur mans by die hospitaal uitgedra en op ‘n oop stuk grond geplaas word.
Plaaslike gesondheidsbeamptes erken dat die pasiënte se behandeling onaanvaarbaar is en het onderneem dat ‘n ondersoek gedoen sal word.
“Meer as 100 vroue, meestal arm vroue, het na die kamp gekom vir operasies. Onmiddellik ná die prosedure het dokters die helpers gevra om elkeen van hulle na die veld langs die hospitaal te skuif,” het Biswa Ranjan Satpathi, Wes-Bengal se direkteur van gesondheidsdienste, aan AFP in Kolkata gesê.
“Dit is onmenslik en die voorval moet ondersoek word,” het hy bygevoeg.
Mediese kenners het ook skok uitgespreek oor toestande by die hospitaal, waar vier dokters altesaam 106 sterilisasies in een dag uitgevoer het.
Uday Roy, ‘n gesondheidswerker wat teenwoordig was by die sterilisasiekamp, sê sommige van die vroue is ná die operasie op riksjas gestoot, selfs al was dit duidelik dat hulle nie in ‘n toestand is om geskuif te word nie.
“’n Vrou wat in die hospitaal gesteriliseer is, het op pad na haar huis van ‘n riksja afgeval. Sy moes gehospitaliseer word met ernstige beserings,” het Roy, wat by Debalaya Trust werk, gesê. Dit is ‘n vrywillige organisasie wat gratis mediese dienste bied.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP