Beurtkrag wag dalk op koue Duitsland
2012-02-08 09:00
Den Haag – Die ekstreme koue in Europa veroorsaak dat Duitsland tans op die grens van sy kragopwekkingsvermoë is. As dinge net ’n bietjie erger word, sal beurtkrag die land se lot wees, berig verskeie Duitse koerante.
Die belangrikste oorsaak hiervan is dat die regering ’n aantal ouer kernkragsentrales ’n jaar gelede na aanleiding van die kernramp in Fukushima, Japan, summier laat afskakel het. Daar is toe besluit om op die duur afskeid van kernkrag te neem.
Dit beteken dat Duitsland op die oomblik moet staatmaak op ouderwetse besoedelende bruinkool- en oliesentrales, asook op son- en windkrag.
Tans word die situasie gered deurdat die lug bokant Duitsland, ofskoon yskoud, onbetrokke is, en die sonkragopwekkers produseer maksimum energie. Maar dit is ook windstil, wat beteken dat die windmeulparke, wat die Duitse landskap op al hoe meer plekke kenmerk, nie veel oplewer nie.
Ná die besluit oor die kernkragsentrales het die energie-owerheid besluit om ou sentrales wat reeds gesluit is, vir noodgevalle voor te berei.
Hulle werk tans ook voluit en verder word elektrisiteit by tye uit Oostenryk ingevoer.
Maar die grens is min of meer bereik. “Die situasie is onder druk, maar nog net nie kritiek nie,” het ’n woordvoerder van die elektrisiteitsmaatskappy Tennet aan die Frankfurter Allgemeine Zeitung gesê.
Die Duitsers hoop nou maar dat dit nie weer gaan sneeu nie, want die betrokke lug beperk die opwekking van son-energie drasties. Tensy die wind kwaai gaan waai, dan word windenergie opgewek.
Die Duitsers hou die weervoorspellings bekommerd dop.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad