Betogings raak weer geweldadig
2009-09-04 09:41
Urumqi, China - Honderde Han Chinese het Vrydag plastiekbottels na gewapende polisielede gegooi toe betogings in die stad van Urumqi geweldadig geword het.
‘n Skare van minstens 1000 mense het naby die People's Square in die hoofstad van die Xinjiang-reeks betoog en aangedring dat die hoof van die kommunisteparty in die streek bedank.
Die betogers het polisielede met bottels begin gooi en ook aangedring dat ‘n man wat in hegtenis geneem is, vrygelaat word.
Die betogings kom slegs ‘n dag nadat duisende mense in die streek betoog het en twee maande ná die dodelike botsings tussen die Moslem minderheidsgroep, Uighurs, en die Han Chinese meerderheidsgroep.
Byna 200 mense is tydens hierdie betogings dood.
“Die regering het na twee maande nog nie hierdie probleem hanteer nie. Hulle moet met ‘n oplossing kom maar die probleem is so groot, miskien kan niemand dit oplos nie”, het Wang Jinren, ‘n inwoner, gesê.
- AFP