Betogers teen China stilgemaak
2009-10-01 10:27
Nieu-Delhi – Polisie het Donderdag 'n groep Tibettane wat in bannelingskap is, buite die Chinese ambassade in Indië in hegtenis geneem.
Dié mense het betoog teen dekades se kommunistiese regering in hulle tuisland terwyl China die 60-jaar herdenking van die People's Republic met ‘n reuse optog in Beijing gevier het.
Indiese polisie het die betogers in polisievoertuie na polisiestasies geneem. Hulle sal heel waarskynlik Donderdagmiddag vrygelaat word.
Dié betogings is deur die Tibettaanse Jeug kongres gereël. Hulle beskryf die kommunistiese regering is China as “60 jaar se geweld, leuens en onderdrukking vir die mense van Tibet”.
China sê Tibet is nog altyd deel van dié land maar baie Tibettane sê die Himalaja-streek was vir eeue lank amper heeltemal onafhanklik totdat Chinese troepe dit in 1950 ingeval het.
Intussen word meer as 36 mense in Katmandoe vir soortgelyke betogings aangehou.
- Sapa