Beste vriend se brief aan Newtown-slagoffer
2012-12-19 09:37
Newtown, Connecticut – 'n Beste vriend se hartroerende brief aan 'n leerder van die Sandy Hook-skool, het Dinsdag duisende mense aangegryp.
"Jack, jy is my beste vriend," lui die begin van die handgeskrewe brief aan die sesjarige Jack Pinto, wat saam met 19 ander leerders en ses onderwysers doodgeskiet is.
"Ons het pret saam gehad. Ek gaan jou mis. Ek gaan met jou praat in my gebede. Ek is lief vir jou Jack. Liefde, John."
Onder die brief was twee kleurfoto's van die seuns.
Yamiche Alcindor, 'n joernalis van USA Today, het Maandag by 'n begrafnisonderneming op die brief afgekom nadat Jack se vriende en familie hul laaste respek aan hom betoon het.
Sy het 'n foto van die brief op haar Twitter-blad gepubliseer, waarna dit oor die wêreld heen versprei is.
Die polisie sê die 20-jarige Adam Lanza het sy slagoffers by die Sandy Hook-skool met 'n semi-outomatiese aanvalsgeweer doodgeskiet. Die vuurwapen het aan sy ma, wat ook doodgeskiet is, behoort.
Lanza het homself ná die voorval om die lewe gebring.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP