Besnoeiings knou Britse weermag
2010-08-26 10:04
Den Haag - As die Britse regering voortgaan met sy planne om staatsuitgawes – met inbegrip van die verdedigingsbegroting – dramaties te besnoei, sal die Britse weermag dalk gedwing word om vliegtuie by die VSA te leen.
Dié moontlikheid word luidens berigte onder Britse militêre kenners geopper in die lig van die miljarde ponde wat die weermag sal moet bespaar.
Om mee te begin, bestaan die vraag of die vloot albei sy beplande nuwe vliegdekskepe – wat die land saam £5?miljard uit die sak sal jaag – sal kan bekostig. Die kiel van die eerste is reeds gelê en die verwagting is dat dit wel voltooi sal word.
Die probleem is dat die vloot gedwing kan word om sy 45 oorblywende Harrier-vegvliegtuie, wat teen 2018 deur die Amerikaanse Joint Strike Fighter vervang moet word, veel vroeër af te skaf. Dit beteken dat minstens die eerste vliegdekskip, wat teen 2014 in diens geneem sal word, dan sonder vliegtuie sal wees.
Die departement van finansies druk die vloot blykbaar kwaai om die vliegdekskepe voorlopig sonder vliegtuie te laat vaar. ’n Anonieme bron het aan die Daily Telegraphgesê: “Die tesourie meen blykbaar dis normaal om vir vliegdekskepe sonder vliegtuie te begroot. Dis bisar.”
Een moontlikheid is om slegs helikopters aan boord te gebruik, ’n tweede is om die skepe met Frankryk te deel. ’n Derde, wat tans ernstig ondersoek word, is om Harriers van die Amerikaanse mariniers te leen.
Die lugmag kan ook gedwing word om die aanskaffing van verkenningsvliegtuie uit te stel. Ook in dié geval word oorweeg om Amerikaanse vliegtuie te leen.
Voorts kan die vloot sy amfibiese vermoë heeltemal verloor en kan die mariniers van die vloot na die leër oorgeplaas word, luidens berigte. Die leër kan byna al sy tenks verloor.
Die Britse weermag loop histories veel meer onder besnoeiings deur wanneer die Tories aan die bewind is. Dit het in die 1950’s en 1970’s ook gebeur, en toe kon die vloot ternouernood nog daarin slaag om die Falkland-eilande van Argentinië te herower.