Besnoeiings dien Britse magte reuse-knou toe
2010-10-20 09:07
Den Haag – Die Britse weermag – veral die vloot – gaan deels ontman word in die regering se reeks drastiese besnoeiings.
Die premier, David Cameron, het Dinsdag die lang gevreesde reeks besnoeiings van £6,8 miljard aangekondig, waarvan die doel is om die reusagtige begrotingstekort waarmee die Arbeidersparty die huidige koalisieregering opgesaal het, te verminder.
Ofskoon die regering graag albei die beplande vliegdekskepe sou wou kanselleer, is dit nie moontlik nie. Die kontrakte met die skeepswerwe maak kansellasie duurder as wat dit sou kos om hulle klaar te bou.
Dié nuus het egter nie die vloot bly gemaak nie. Die eerste van die twee, HMS Queen Elizabeth, wat in 2016 voltooi moet wees, sal nooit vliegtuie dra nie; slegs helikopters. En daarby sal hy slegs drie of vier jaar in vaart wees voordat hy in reserwe geplaas of verkoop word.
Dan neem sy susterskip, HMS Prince of Wales, by hom oor. Voorlopig sal slegs Franse of Amerikaanse vliegtuie van sy vliegdek gebruik kan maak, want sy vliegtuie word eers van 2020 in gebruik geneem, en dit sal tot 2036 duur voordat hy volledig operasioneel is.
Die huidige Harrier-straaljagters word saam met die enigste huidige operasionele vliegdekskip, HMS Ark Royal, onmiddellik aan diens onttrek.
Die ander vliegdekskip, HMS Illustrious, sal nog tot 2014 as helikopterdraer gebruik word, terwyl die huidige helikopterdraer, HMS Ocean, waarskynlik nooit weer op die oop see sal vaar nie.
Kritici wys daarop dat Brittanje tien jaar lank geen maritieme-vastevlerk-vermoë sal hê nie. As Argentinië, soos in 1982, oor ses maande sou besluit om die Falkland-eilande met geweld te beset, sal die Britte magteloos wees.
Daarby word die bestelling van nuwe kernmissiel-duikbote uitgestel, terwyl die getal fregatte en torpedojaers van 24 tot 19 verminder word.
Die lugmag verloor nie veel vliegtuie nie, maar 5000 personeel sal afgedank en twee basisse gesluit word.
Die leër se teenwoordigheid in Duitsland, wat reeds in 1945 begin het, word beëindig. ’n Pantserbrigade word ontbind, en die leër verloor 100 tenks, 200 pantservoertuie en 7000 soldate.
Die besnoeiings is negatief in die weermag ontvang. ’n Ontstelde anonieme hoë vlootoffisier het aan die Daily Telegraph gesê selfs die Italiaanse en Spaanse vloot sal na dese sterker as dié van Brittanje wees, en ’n Harrier-vlieënier het Cameron op ’n vergadering met vlootoffisiere gisteroggend hard gekritiseer.
- Volksblad