Besmette kaas dood ses
2010-02-17 01:32
Vienna – Ses mense is dood nadat hulle besmette kaas geëet het, het Oostenryk se ministerie van gesondheid gesê.
Volgens die ministerie het die sterftes, vier in Oostenryk en twee in Duitsland, verlede jaar plaasgevind en was dit veroorsaak deur ‘n organisme genaamd Listeria. Hierdie organisme kan ernstige en soms dodelike infeksies by jong kinders, senior burgers en ander met ‘n verswakte immuunstelsel veroorsaak.
Al vier die oorledenes van Oostenryk was senior burgers.
Die besmette kaas is in die suiderlike provinsie van Styria deur Prolactal GmbH vervaardig. Hulle het verlede maand begin om die kaas van die rakke te haal en het Dinsdag gesê die vervaardiging daarvan is gestaak.
In 2009 het Oostenryk altesaam 45 listeria-infeksies gehad wat tot elf sterftes gelei het.
- Sapa-AP