Berlusconi skuldig aan bedrog
2012-10-27 07:59
Rome – Die voormalige Italiaanse premier Silvio Berlusconi se
tronkstraf van vier jaar vir belastingbedrog is tot een jaar verkort,
het ’n hof Vrydag in Milaan beslis.
Berlusconi het voordeel getrek uit ’n amnestiewet van 2006 wat
daarop gemik was om oorbevolking in tronke te verminder. Hy mag nog twee
keer appèl aanteken teen die vonnis.
Aanklaers het gevra vir tronkstraf van drie jaar en agt maande.
Die hof het ook beveel dat Berlusconi en sy medebeskuldigdes
€10 miljoen (sowat R86,4 miljoen) skadevergoeding aan Jan Taks moet
betaal.
Die uitspraak kom twee dae nadat Berlusconi (76) bevestig het hy
gaan in volgende jaar se algemene verkiesing as leier van sy
sentrumregse Volk van Vryheid-party (PDL) staan.
Die hofsaak het verband gehou met die aankoop van uitsaairegte deur
sy Mediaset-televisiemaatskappy. Hy en ander uitvoerende lede van die
groep is daarvan beskuldig dat hulle die prys vir uitsaairegte opgeblaas
het via oorsese maatskappye wat deur Berlusconi beheer word.
Hulle het glo ’n deel van die inkomste afgeskep om ’n onwettige omkoopfonds te stig.
Die ondersoek het gefokus op TV- en teaterregte wat Berlusconi se
beherende maatskappy, Fininvest, tussen 1994 en 1999 vir €470 miljoen
(R4,06 miljard) via ’n oorsese maatskappy van Amerikaanse groepe gekoop
het.
Die sekretaris van die PDL, Angelino Alfano, het gesê die
beslissing bewys weer eens die “geregtelike vervolging” van die
mediamagnaat.
’n Politieke teenstander, Antonio di Pietro – self ’n voormalige
magistraat – het egter die besluit geprys en gesê “die waarheid is
ontbloot”.
Die hof het die voorsitter van Mediaset en ’n vriend van
Berlusconi, Fedele Confalonieri, onskuldig bevind. Aanklaers het
tronkstraf van drie jaar en vier maande vir hom gevra.
Aandele in Mediaset, Italië se grootste private uitsaaier, het met 3% getuimel ná die beslissing.
’n Afsonderlike hofsaak oor bewerings dat Berlusconi ’n
minderjarige prostituut betaal het vir seks is tans onderweg in Milaan.
Hy ontken alle aanklagte teen hom in dié saak.
- Die Burger