Berlusconi meer vasberade ná aanval
2009-12-18 09:00
Sapa-AP
Milaan. – Silvio Berlusconi, Italië se eerste minister, het gister stroef en swakkies na fotograwe gewuif toe hy gister ’n hospitaal hier verlaat het. Sy gesig was bedek met verbande vier dae nadat ’n geestelik versteurde man hom by ’n politieke byeenkoms aangeval het.
’n Groot verband het gedeeltelik die linkerkant van Berlusconi se gesig, insluitend sy neus, bedek. Dit is gebreek toe die man ’n klein replika van Milaan se katedraal in die eerste minister se gesig gegooi het.
Twee van Berlusconi (73) se tande is ook gebreek en ’n verband is tussen sy neus en lip gesit.
Berlusconi het ’n paar treë gegee uit die San Raffaele-hospitaal voordat hy in een van verskeie motors in ’n wagtende konvooi geklim het.
Luidens nuusberigte was die konvooi op pad na Arcore, Berlusconi se villa in die buitewyke van dié stad. ’n Amptenaar in sy kantoor wou nie die bestemming bekend maak nie.
Die aanvaller, wat as Massimo Tartaglia geïdentifiseer is, word in ’n tronk hier aangehou.
Berlusconi het in ’n verklaring gesê hy gaan voort “met meer krag en vasberadenheid as voorheen. Ek sal twee dinge oor dié dae onthou: Die haat van enkeles en die liefde van baie, baie Italianers”.
Berlusconi weer ’n seksskandaal en regsprobleme af. Hy het vroeër gekla hy is die teiken van ’n “klimaat van haat”.
Sy beserings ontlok openbare simpatie.
’n Regter het Woensdag ’n aansoek van Tartaglia se regspan om hom na ’n psigiatriese hospitaal te laat oorplaas, verwerp.
- Die Burger