Berlusconi 'gaan bedank'
2011-10-27 08:02
Den Haag – Italië staan glo op die punt om sy flambojante premier, Silvio Berlusconi, op te offer om die land van ekonomiese ondergang te red.
Twee gesaghebbende Italiaanse koerante, La Repubblica en La Stampa, het Woensdagoggend berig oor ’n geheime ooreenkoms in die rege- rende koalisie dat Berlusconi in Desember of Januarie sy bedanking sal aankondig. Nuwe verkiesings sal dan glo vir Maart uitgeskryf word, met Berlusconi wat opnuut sal deelneem.
Italië loop gevaar om, nes Griekeland, na bankrotskap te gly. Die land se staatskuld is €1,8 biljoen (R19,78 biljoen), oftewel 120% van sy bruto binnelandse produk.
Op die Europese Unie (EU) se spitsberaad verlede Sondag het dr. Angela Merkel, Duitse bondskanselier, en pres. Nicolas Sarkozy van Frankryk van Berlusconi geëis dat hy gister by die opvolg-beraad skriftelik besonderhede moes gee van hoe Italië sy begrotingstekort in orde sal kry.
Toe Merkel en Sarkozy op hul mediakonferensie Sondag gevra is of hulle gerusgestel is deur hul ontmoeting met Berlusconi, het hulle luidens berigte sinies na mekaar geglimlag. Berlusconi was glo woedend oor wat hy as die twee se “inmenging” beskou.
Intussen het die koalisiegenote in Rome ooreenstemming oor die besnoeiings bereik. Dit sou Berlusconi in staat stel om gister met die vereiste beloftes in sy sak na Brussel te reis.
Maar die prys wat hy blykbaar moes betaal, is om te bedank en nuwe verkiesings uit te roep. Die premier se posisie is in elk geval ernstig verswak deur herhaalde seksskandale.
Ofskoon die premier se kantoor die berigte formeel ontken het, glo min mense die ontkenning.
Die spitsberaad in Brussel sou gisteraand om 18:00 begin, aanvanklik met al 27 EU-regeringsleiers. Daarna sou die leiers van die 17 lande van die euro-sone apart byeenkom en praat totdat ooreenstemming bereik is, wat na verwagting tot diep in die nag kan voortduur. Waarnemers het dit vooraf as ’n “reg-of-weg”-beraad bestempel.
’n Anonieme EU-diplomaat het aan The Guardian gesê: “Almal besef ons is op die randjie van so ’n totale katastrofe dat enigiets wat dit en ’n groot resessie voorkom, aangegryp moet word. Die markte sal ons keelaf sny as hulle hulself nie doodlag nie.”
Gistermiddag is druk gegis dat die regeringsleiers in breë trekke ’n ooreenkoms sou bereik, en dat die ministers van finansies die tegniese besonderhede later sou invul. Daar was ook sprake dat die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sou ingryp as die regeringsleiers nie konsensus bereik nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger