Berlusconi bevestig sy uittrede
2011-11-09 14:23
Rome – Die Italiaanse premier Silvio Berlusconi het in ‘n onderhoud wat Woensdag gepubliseer is, bevestig dat hy nie aan die volgende verkiesing sal deelneem nie en dat hy teen die einde van die maand sal bedank.
“Ek sal nie weer in die verkiesing staan nie,” het Berlusconi aan die La Stampa-koerant gesê nadat hy bekendgemaak het dat hy sal bedank sodra ‘n ekonomiese hervormingswet goedgekeur is.
Berlusconi het gesê Angelino Alfano, die voormalige minister van justisie en die leier van die People of Freedom-party, kan hom as ‘n kandidaat vervang.
“Ek sal bedank sodra die hervormings goedgekeur is. Die proses sal teen die einde van die maand voltooi wees,” het hy gesê.
“Ek voel bevry,” het hy bygevoeg.
Berlusconi het gesê hy wil hê president Giorgio Napolitano moet die parlement laat ontbind en vroeëre verkiesings hou ná sy bedanking, maar die politieke verloop sal in die hande van die president wees sodra Berlusconi uit sy pos tree.
Daar is verskeie opsies wat oorweeg kan word: die uitbreiding van die huidige sentraal-regse koalisie; die vorming van ‘n nasionale eenheidsregering; of, as geen ander opsie werk nie, die ontbinding van die parlement en vroeër verkiesings.
“Dit is belangrik om vinnig op te tree. Hoe vinniger ons optree, hoe vinniger kan ons uit hierdie mallemeule kom, hierdie ongelooflike situasie, met markte wat druk en stoot,” het Berlusconi gesê.
“Dit is nou Alfano se oomblik. Hy sal ons kandidaat vir premier wees, hy is baie goed. Beter as wat mense mag dink en almal het sy leierskap aanvaar,” het hy gesê.
Op die vraag oor wat hy in die toekoms gaan doen, het Berlusconi geantwoord: “Miskien sal ek terugkeer om die president van AC Milaan te wees.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP