Berlusconi-aanval dalk vervals
2009-12-22 21:25
Rome – Video’s wat op die internet opgelaai is het Dinsdag twyfel gebring oor die aanval op Italië se premier Silvio Berlusconi op 13 Desember, deur te insinueer dat dit opgestel was om simpatie vir die Italiaanse leier te kweek.
Video’s op YouTube wys televisie-beeldmateriaal waarin Berlusconi onmiddellik na die aanval die onderste deel van sy gesig met ‘n swart plastieksak toemaak en dit daar hou terwyl hy in die kar ingehelp word. Geen bloed is sigbaar nie.
Die YouTube video het meer as 200 000 kykers gehad en verskeie ander, soortgelyke video’s het ook op YouTube verskryn, insluitende een wat 60 000 kykers gehad het.
‘n Man wat volgens die polisie ‘n lang geskiedenis van sielkundige probleme het, is na die aanval in hegtenis geneem.
Die 73-jarige leier het ‘n gebreekte neus, twee gebreekte tande en ander beserings aan sy gesig opgedoen.
In die eerste video word daar bevraagteken hoekom die premier ‘n paar minute na die aanval uit die motor klim en sy bebloede gesig aan die kameras wys, insluitende ‘n diep sny onder sy linkeroog wat nie in die eerste beeld daar was nie.
Daar is ook geen bloed op sy klere nie.
Die regering het twee dae na die aanval aangekondig dat hulle beplan om bladsye op Facebook te verban waarop groepe die aanvaller geprys het.
Politici aan beide kante van die saak het die voorstelle van die hand gewys.
Giuseppe Fioroni, die opposisie demokratiese party se skaduminister van welsyn en opgeleide dokter, het gesê dat mense hierdie “onnoselheid” moet stop.
As die voorwerp, ‘n miniatuur beeld van die katedraal in Milan, die premier op sy tempel getref het kon hy dood gewees het, het Fioroni gesê.
Berlusconi het ‘n toename van drie punte in publieke vertroue na 48% gesien na die aanval.
- Sapa-AFP