Bergklimmer vermis, dalk dood
2009-08-04 15:36
Islamabad, Pakistan- ‘n Spaanse bergklimmer is vermis en vermoedelik dood op die Pakistanse gedeelte van die Himalaja-bergreeks.
Volgens sy toeroperateur het Luis Maria Barbero (47) op 21 Julie vanjaar vermis geraak terwyl hy die piek van die 8068 meter hoë, Gasherbrum II berg probeer bereik het.
"Sy dood is nog nie bevestig nie, maar ons almal weet dat selfs ‘n wonderwerk hom nie in die erge toestande na so ‘n lang tydperk sal kan red nie”, het Amirullah Khan, woordvoerder vir die man se toeroperateurs, Hunza Guides, aand die Duitse nuusagentskap dpa, gesê.
Barbero het besluit om aan te hou klim ten spyte van waarskuwings van ‘n Switserse klimmer oor slegte weerstoestande. “Hy het gesê hy sal nie terugkeer tot hy die piek bereik het nie”, het Khan gesê.
Volgens Khan het Barbero sy ligging op die berg aan sy kollegas wat aan die voet van die berg gekamp het met behulp van ‘n flitslig aangedui maar na middernag op die dag wat hy vermis geraak het, het die ligseine van sy kant af opgehou.
"Ons kon nie ‘n helikopter stuur tot drie dae later nie omdat die weer so sleg was en op die vierde dag was daar ‘n sneeustorting. Ons het daarna alle hoop verloor”, het Kahn gesê.
-Sapa