Bemanningslede ernstig beseer toe skip brand
2012-01-12 08:51
Wellington – Sewe beseerde bemanningslede op ‘n Suid-Koreaanse vissersboot, wat Donderdag in Antarktiese waters aan die brand geraak het, moet dringend na ‘n hospitaal in Nieu-Seeland geneem word vir mediese behandeling.
Drie Viëtnamese bemanningslede is dood nadat hulle in die Jeong Woo 2 se akkommodasieblok vasgekeer was toe die brand vroeg Woensdagoggend uitbreek, het die Rescue Coordination Centre New Zealand gesê.
‘n C-17 Globemaster-vliegtuig van die Amerikaanse lugmag gaan Donderdagnag van Christchurch af vlieg om die sewe beseerde mans by die Amerikaanse Antarktiese basis by McMurdo op te laai en na Nieu-Seeland neem vir behandeling.
Drie van die mans, twee Viëtnamese en 'n Indonesiër, is ernstig beseer met tweede- en derdegraadse brandwonde. Twee ander Viëtnamese en twee Indonesiërs het minder ernstige brandwonde.
Die sewe beseerde mans is aan boord die Amerikaanse navorsingsskip Nathaniel B Palmer en sal glo vroeg Vrydagoggend by die McMurdo-basis aankom.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA