België: Vier dood, 75 beseer in skietery
2011-12-13 17:53
Brussel – 'n Gewapende man het op inkopiegangers by 'n markplein in die Belgiese stad Liege losgebrand, waarna drie mense dood is en die verdagte homself om die lewe gebring het, het plaaslike media Dinsdag berig.
Nog 75 mense is in die aanval gewond, het die openbare aanklaer Daniel Reynders bevestig.
Beamptes het gesê die skieter, Nordine Amran (33), was 'n berugte misdadiger wat Dinsdagoggend deur die polisie ontbied is, maar nooit vir sy afspraak opgedaag het nie.
Reynders het bygevoeg dat dit nie 'n terroriste-voorval was nie.
Volgens berigte het die aanval Dinsdag om 12:30 in 'n besige deel van Liege gebeur.
Place Saint-Lambert, die markplein waar die aanval plaasgevind het, hou 'n jaarlikse Kersmark wat deur sowat 1.5 miljoen toeriste besoek word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP