Bejaarde pleeg selfmoord ná profeet sê einde kom
2011-05-06 11:43
Taipei – ‘n Taiwannese man het na bewering sy eie lewe geneem nadat ‘n man wat homself as 'n profeet voordoen gewaarsku het dat die wêreld amper gaan eindig, het ‘n koerant Vrydag berig.
Die 70-jarige man, wat slegs as Cheng geïdentifiseer is, het by ‘n venster van sy vyf-verdieping-woning uitgespring.
Hy is dood verklaar nadat hy na ‘n hospitaal gejaag is.
Liberty Times berig dat die voorval Donderdag in Peitou, in die buitewyke van Taipei, gebeur het.
Die koerant berig dat Cheng na bewering selfmoord gepleeg het omdat hy bekommerd was dat dit amper die einde van die wêreld is.
Sy vrou, Chen Chu, het aan polisie gesê dat Cheng depressief was vandat ‘n man ‘n waarskuwing oor die apokalips uitgereik het.
Die man, wat as Teacher Wang bekend staan, het aangekondig dat ‘n dodelike aardbewing en tsoenami Taiwan Woensdag sal tref.
Cheng het al hoe meer bekommerd geraak nadat twee aardbewings Taiwan verlede week getref het, het sy gesê. Die aardbewings het 5.7 en 6.2 gemeet.
Teacher Wang het verlede week op sy blog gewaarsku dat Taiwan deur ‘n aardbewing en ‘n tsoenami getref sal word. Hy het gewaarsku dat die aardbewing 14 sal meet en die tsoenami 170 m hoog sal wees.
Volgens die Amerikaanse geologiese opname (USGS) was daar nog nie ‘n aardbewing wat meer as 9.5 gemeet het nie.
Die weerburo het gesê dat Wang tot sowat R222 000 beboet kan word aangesien hy 'n onbevoegde waarskuwing uitgereik het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA