Bejaarde man geskiet, valstande red lewe
2011-05-29 21:07
Sao Paulo - ‘n Bejaarde Brasiliaanse man wat in die gesig geskiet is, het wonderbaarlik oorleef toe sy valstande ‘n koeël wat na sy brein op pad was, gedeflekteer het.
‘n Hospitaalbeampte sê die 81-jarige Zacarias Pacheco de Moraes is Donderdag geskiet terwyl hy gewerk het in ‘n kroeg wat hy in die westelike dorp Alta Floresta besit.
Die beampte, Jose Marcos da Silva, het aan Globo TV se webwerf gesê die koeël sou waarskynlik Moraes se brein deurboor het as dit nie sy valstande getref het nie. Die koeël het uiteindelik in sy keel vasgeslaan. Die koeël kan nie onmiddellik verwyder word nie, aangesien chirurgie nou te riskant sal wees.
Silva het gesê die pasiënt is in ‘n stabiele toestand, maar kan moontlik van sy sig verloor.
- Volg Nuus24 op Twitter
- AP