Bejaarde man dreig om Obama dood te skiet
2010-11-26 18:00
Columbia, South Carolina – ‘n Man wat talle wapens besit is in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n verpleegster vertel het dat hy daaroor dink om president Barack Obama dood te maak.
Michael Stephen Bowden (78) is Vrydag by die Spartanburg-tronk in aanhouding geneem.
Bowden is in hegtenis geneem nadat hy onlangs ‘n verpleegster by ‘n kliniek in Spartanburg vertel het dat hy dit oorweeg om Obama dood te maak, het ‘n verklaring deur ‘n Amerikaanse spioen gesê.
Tydens ‘n mediese ondersoek by die kliniek op 16 November het die verpleegster vir Bowden gevra of hy ooit daaraan dink om selfmoord te pleeg.
“Ja, ek sal graag die president wil skiet en daarna myself,” het Bowden, volgens die beëdigde verklaring, aan die verpleegster gesê.
Bowden het dieselfde woorde aan ‘n ander verpleegster gesê. Hy het bygevoeg dat hy Obama wil doodmaak “omdat hy nie genoeg doen om Afro-Amerikaners te help nie.”
Volgens die verklaring het Bowden, wat ‘n wit man is, selfmoordneigings getoon tydens ‘n mediese ondersoek in April.
Polisie het die volgende dag Bowden se huis deursoek wat hy saam met sy vrou en volwasse seun deel.
Hulle het drie semi-outomatiese rewolwers en ‘n semi-outomatiese geweer onder Bowden se bed gevind. Agente het ook dertien ander gewere in die huis ontdek, insluitende ‘n gelaaide haelgeweer naby die voordeur.
Toe Bowden oor sy stellings ondervra was, het hy erken dat hy dit gesê het.
“As ek die geleentheid gehad het om Obama... te skiet, sou ek dit doen,” het hy in ‘n geskrewe verklaring bygevoeg.
WYFF-TV het berig dat Bowden vier jaar in die vloot deurgebring het en dat hy ‘n voormalige polisieman in New York was.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AP