Bejaarde brand los op mense, skiet homself
2011-06-03 09:11
Yuma – ‘n Bejaarde man het vyf mense in die suide van Arizona doodgeskiet voordat hy die wapen op homself gerig het, het owerhede gesê.
Die vermeende skieter, Carey Hal Dyess (73), het ook een ander persoon gewond voordat hy homself doodgeskiet het.
Volgens die polisie is die volgorde van die voorval nog onduidelik. Hulle sê hulle het Donderdagoggend omstreeks 09:30 op die eerste oproep gereageer.
Die polisie het twee ure later Dyess dood aangetref.
Een van die slagoffers is binne ‘n sakegebou in die Yuma-distrik in Arizona doodgeskiet, het ondersoekbeamptes gesê.
Polisie beweer dat Dyess vier ander mense in die Yuma-distrik doodgeskiet het.
Die gewonde persoon is per helikopter na ‘n hospitaal in die Phoenix-gebied geneem.
Volgens die polisie het polisielede die vermeende skieter omstreeks 11:30 dood aangetref. Die polisie beweer dat hy homself doodgeskiet het.
Die slagoffers se name is nie onmiddellik uitgereik nie. Geen ander inligting oor die gevalle is beskikbaar nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP