Bejaarde beskuldig van brand by tehuis
2012-10-24 16:48
Taipei – ‘n 69-jarige pasiënt word daarvan beskuldig dat hy die brand gestig het die lewe van 12 bejaardes by 'n tehuis geëis het.
Lin Chi-hsiung is glo ernstig siek en depressief oor sy gesondheid en het besluit om die hospitaal, waar die tehuis geleë is, aan die brand te steek, het Tseng Chao-kai, ‘n staatsaanklaer, gesê.
“As iemand ernstig siek is dan kan hul geestestoestand baie onstabiel raak. Hy gaan van brandstigting en moord aangekla word, maar sy gesondheid kan egter sy verhoor beïnvloed,” het Chao-kai gesê.
Chi-hsiung is in ‘n pakhuis agter die Hsinying-hospitaal gevind en aan die polisie erken dat hy die brand gestig het.
Plaaslike media het berig dat Chi-hsiung terminale kanker het, maar die staatsaanklaer het geweier om kommentaar te lewer.
Die brand, waarin 12 bejaardes dood is en 60 ander mense beseer is, is glo die ergste hospitaal-brand in die geskiedenis van Taiwan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA