Bejaarde beroof bank
2009-09-12 22:49
La Jolla, Kalifornië – ‘n Netjies geklede bejaarde man met ‘n suurstoftenk het ‘n bank in La Jolla in San Diego beroof, het amptenare gesê.
Sers. Ray Battrick van die San Diego polisiedepartement het gesê dat die verdagte Saterdag ‘n brief aan ‘n teller van die San Diego Nasionale Bank oorhandig het waarin hy vir geld gevra het.
Hy is daar weg met ‘n onbekende hoeveelheid geld.
Volgens Battrick is dit nie bekend of die verdagte ‘n wapen gehad het nie.
Die rower is beskryf as ‘n lang man in sy sewentigs met wit hare, ‘n grys snor en brille. Hy het ‘n wit baret, ‘n Argyle trui en ‘n bruin sportsbaadjie aangehad.
Die suurstoftenk was in ‘n swart sak en is met plastiekpypies aan die man se neus verbind, het Battrick gesê.
- AP