Beijing vir derde dag deur erge besoedeling geraak
2013-01-30 16:00
Beijing – Beamptes in dié stad het Woensdag gesondheidswaarskuwings aan inwoners uitgereik, met digte rookmis wat vir die derde agtereenvolgende dag oor die hoofstad en dele van die land gehang het.
Die stad se 20 miljoen mense is aangeraai om vensters toe te hou, ‘n “gebalanseerde dieet” te eet en baie water te drink, terwyl die munisipale regering bejaardes, kinders en diegene met gesondheidsprobleme aangeraai het om binne te bly of gesigmaskers te dra as hulle uitgaan.
Die waarskuwings op internet-nuusbronne, mikroblogs en in gereelde uitsendings deur die uitsaaier China Central Television, kom nadat noodmaatreëls aangekondig is om die besoedeling te probeer teenwerk.
Beamptes sê 103 fabrieke is Dinsdag gesluit en 30% van amptelike motors moes van die paaie bly.
Intussen neem ondersteuning van ‘n veldtog deur die blogger Pan Shivi, wat vra vir ‘n wet vir skoon lug, toe. Pan het 14 miljoen volgelinge op Sina Weibo, China se weergawe van Twitter.
Teen Woensdagmiddag het meer as 43 000 mense ten gunste van nuwe wetgewing gestem om die besoedeling teen te werk, het ‘n opname deur Pan getoon.
Hy het die veldtog in 2011 begin om Beijing te dwing om besonderhede beskikbaar te stel oor die vlakke van klein lugpartikels wat as PM2.5 bekendstaan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP