Beer val man op straat aan
2010-09-25 00:01
Saint Petersburg – ‘n Wilde beer het Vrydag ‘n jong man op straat in die noorde van Rusland aangeval en beseer, het die polisie gesê.
“Die 26-jarige man is Vrydagoggend in Syktyvkar deur ‘n beer in die nek gebyt,” het Nadezhda Biryukova, polisiewoordvoerder, gesê.
“Ek het nie weggehardloop toe ek die beer gesien het nie. Ek het gehoor mens moet stilstaan as jy wilde diere sou raakloop. Maar dit het nie gehelp nie, hierdie was byna my einde,” het die slagoffer, Andrei Kotikov, vertel.
Kotikov, wat ook ‘n gewigopteller is, kon daarin slaag om die beer van hom af te kry en het dadelik hulp gaan soek.
Volgens die polisie het die beer in die stad kom kos soek nadat ‘n erge hittegolf die afgelope Somer sy voedselbronne vernietig het.
“Daar is min bessies en neute in die woude oor weens die warm temprature,” het Biryukova gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP