Beeldmateriaal wys seun voor hy vermoor is
2011-07-14 13:33
Kaapstad – CNN het beeldmateriaal op hul webtuiste gepubliseer van ‘n agtjarige seun wat in die strate van Brooklyn, New York, rondloop voordat hy deur ‘n man vermoor en in stukke opgekap is.
‘n Intensiewe soektog is Maandag geloods ná Leiby Kletzky (8) vermis geraak het.
Hy was op pad terug van ‘n kamp toe hy ‘n vreemdeling vir aanwysings gevra het, het AFP Woensdag berig.
‘n Kringtelevisie-kamera het die seun opgeneem waar hy buite ‘n tandarts se kantoor vir die man staan en wag.
‘n Halfuur later het hy saam met die man in sy motor geklim.
Die polisie het die verdagte, Levi Aron, Woensdag by sy woonstel opgespoor.
Toe hulle vir hom vra of hy weet waar die seuntjie is, het hy met sy kop na die kombuis geknik.
In die kombuis het die polisie ‘n bebloede broodbord, 'n mes en die seun se voete in die vrieskas gevind.
Die res van sy lyk is in ‘n rooi tas in ‘n vullisdrom in ‘n ander gebied van Brooklyn gevind.
‘n Bron het aan CNN bekendgemaak dat die seun se familie die verdagte ken.
Kyk hier na die beeldmateriaal wat die kringtelevisie-kamera vasgevang het:
Volg Nuus24 op Twitter.