Batman-skietery: Polisie wil nie bespiegel oor motief
2012-07-20 23:01
Kaapstad – Die polisie in Aurora, Colorado, weet nog nie hoekom ‘n gemaskerde man op fliekgangers in ‘n teater losgebrand het nie.
Dan Oates, polisiehoof van Aurora, het op ‘n mediakonferensie gesê hy wil nie oor die motief "bespiegel" nie.
Die polisiehoof het bevestig dat altesaam 71 mense geskiet is. Hy sê 12 mense het in die voorval omgekom.
“Twee mense het in hospitale beswyk en tien mense het op die toneel gesterf.”
Altesaam 59 mense het beserings opgedoen. Hy het bygevoeg dat talle mense in ‘n kritieke toestand is.
Oates sê die polisie is nog nie seker hoeveel skote afgevuur is nie.
New York se polisiedepartement het vroeër gesê die vermeende skieter, James Holmes (24), het sy hare rooi geverf en soos die Batman-flieks se karakter The Joker gelyk.
Raymond Kelly, polisiekommissaris van die stad, en sy woordvoerder wou nie onthul wie hulle oor dié beskrywing van die verdagte ingelig het nie, het AP berig.
Oates het nie dié beskrywing bevestig nie. Hy het op die mediakonferensie gesê Holmes het net swart aangehad – ‘n swart helm, baadjie, broek, masker, lies- en keelbeskermer en handskoene.
Sky News het vroeër die mediakonferensie regstreeks uitgesaai.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24