Bangkok: Kitsvloede strand duisende
2010-11-02 10:48
Bangkok – Kitsvloede, verskeie meter diep in sekere plekke, het deur ‘n groot aantal stede in die suide van Thailand gespoel en sowat 100 000 mense gestrand.
Erge vloede het ook sedert 10 Oktober die lewe van sowat 100 mense in Thailand geëis en vrese bestaan dat verdere verwoesting gesaai kan word.
Stygende watervlakke word in Hat Yai in die Songkhla-provinsie ervaar weens swaar reënval wat sedert Maandag in dié gebied plaasgevind het.
Dít het tot gevolg gehad dat duisende mense sonder elektrisiteit gelaat is.
“Sowat 80% van Hat Yai is onder vloedwater en 30 000 huishoudings met sowat 100 000 inwoners is gestrand,” het Prai Pattano, Hat Yai-burgemeester, gesê.
“In sommige dele is die water sowat drie tot vier meter diep,” het hy bygevoeg.
Owerhede skat dat sowat ses miljoen mense deur dié Thaise vloede geaffekteer word met sommige huise wat heeltemal verspoel en plase wat totaal verwoes is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP