Baba sterf na uitgerekte hofsaak
2009-11-15 05:23
Londen – Die sieklike baba wat die middelpunt was van ‘n hewige hofsaak tussen sy ouers in Brittanje het Saterdag gesterf.
Die baba, wat as Baby RB bekendstaan, is al sedert sy geboorte in Oktober verlede jaar aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel.
Baby RB se ma en sy dokters wou die masjiene wat hom aan die lewe gehou het afskakel, maar sy pa het eers geweier. Hy het later, na ‘n uitgerekte hofsaak, ingestem dat dit wel afgeskakel kan word.
Die seun is glo gebore met ‘n spierswakte-toestand wat sy asemhaling aantas en hom byna verlam gelaat het.
Volgens owerhede het hy Saterdag in die hospitaal gesterf.
“Ek het hom in my arms vasgehou en ek kon vir die eerste keer sy gesiggie sien sonder al die pypies. Ek het vir hom gesê ek sal altyd vir hom lief wees,” het Baby RB se ma gesê.
–Sapa, AFP