Baba herenig met ouers ná motordiefstal
2012-08-20 16:38
Doebai – ‘n Babadogtertjie, wat in die agterkant van ‘n gesteelde motor was, is ná ‘n sewe uur-lange soektog met haar ouers herenig.
Lailas, wat net ‘n maand oud is, was in ‘n wit Toyota Prado toe dit Saterdag in die Santsaiya 6-gebied in die Sharjah-streek naby Doebai gesteel is. Haar ouers het glo die enjin van die voertuig aangelos toe hulle gou in die winkel was.
In net ‘n paar sekondes was die voertuig met die baba weg.
Die polisie het vinnig ‘n waarskuwing uitgereik en ook ‘n tweet uitgestuur. Dié tweet is vinnig deur 1 700 mense, insluited die minister van buitelandse sake, Sheikh Abdullah bin Zayed, versprei.
Binne ‘n paar ure het Ahmed Ibrahim al-Shamsi, 'n inwoner van die Sharjah-streek, die polisie in kennis gestel dat hy die gesteelde voertuig gesien het.
Die voertuig is in Muwailah gekry, ‘n paar kilometer weg van waar dit gesteel was. Lailas was veilig binne-in die voertuig.
“Die baba is onmiddellik na die Al-Qasimi hospital geneem, sy was gesond,” het Mohammed al-Shihi, woordvoerder van die Sharjah-polisie, gesê.
Dit was die grootste terugvoer wat die polisie nog op ‘n waarskuwing gekry het wat hulle aanlyn gedoen het.
“Ons het baie oproepe ontvang van mense wat dink hulle he die motor gesien of mense wat net wou help,” het al-Shihi gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP