Australiese vloede: 4 dood, duisende ontruim
2013-01-29 09:20
Canberra – Vier mense is dood en duisende moes Dinsdag in twee Australiese state hul huise ontruim weens erge vloede.
Lug- en spoorvervoer is ook deur die swaar reën ontwrig.
Meer as 200 mm reën het in die afgelope drie dae in sommige dele van Queensland en Nieu-Suid-Wallis geval en riviere en dorpe is oorstroom.
Die dele wat die ergste geraak is, is Bundaberg, Rockhampton en Ipswich in Queensland en Grafton en Lismore in die noorde van Nieu-Suid-Wallis.
Altesaam 14 helikopters het oornag meer as 1 000 mense in Queensland opgepik en reddingspogings het Dinsdag voortgegaan.
“Die erge weer het baie harte in Queensland gebreek,” het Julia Gillard, Australië se premier, gesê.
‘n Driejarige seun is onder die vier mense wat dood is. Hy het in die hospitaal gesterf nadat hy deur ‘n vallende boom getref is terwyl hy en sy ma na die vloedwater in dele van Brisbane, Australië se grootste stad, gekyk het.
Meer as 2 000 huise is in Bundaberg oorstroom en 7 500 mense moes hul wonings ontruim. Mense het aan dakke geklou en na bote geroep om hulle te red, terwyl televisie-beeldmateriaal gewys het hoe mense deur vloedwater meegesleur word.
Inwoners van Brisbane is gewaarsku om drinkwater te kook, aangesien die stad se hoof-watersuiweringsaanleg gesluit is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters