Australiese joernalis in Egipte aangehou
2012-02-11 22:53
Kaïro – Die Egiptiese polisie het Saterdag 'n Australiese vryskutjoernalis en die vertaler wat saam met hom werk in hegtenis geneem omdat hulle na bewering Egiptenare betaal het om aan protesoptogte teen die owerhede deel te neem, het 'n sekerheidsbeampte gesê.
Austin Mackell en sy vertaler, Aliya Alwi, is in die stad Mahalla in hegtenis geneem terwyl aktiviste aan optogte deelgeneem het om die eerste herdenking van die protesaksie wat pres. Hosni Mubarak se bewind beëindig het, te vier.
Die sekerheidsbeampte sê inwoners van Mahalla het by die polisie gekla dat die twee mense betaal het om aan die protesoptog deel te neem.
Alwi het op haar Twitter-profiel gesê hulle word beskuldig van die aanhitsing tot protesoptogte en vandalisme.
"Getuies is na vore gebring om dit te bevestig," het sy geskryf. Sy het later geskryf dat hulle aan die land se intelligensiediens oorhandig is.
Egiptiese owerhede het al in die verlede protesoptogte op buitelanders blameer.
Sekerheidsmagte het in Junie 'n Amerikaans-Israeliese man in hegtenis geneem op soortgelyke aanklagte, en hom in Oktober vrygelaat as deel van 'n uitruilooreenkoms.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP