Australiese biskop bedank oor skandale
2011-04-04 18:00
Vatikaanstad - Pous Benedictus XVI het die bedanking van ‘n Australiese biskop, Michael John Malone, te midde ‘n kindermishandelingskandaal in sy biskopgebied aanvaar.
“Die Heilige Vader Benedictus XVI het die afswering van pastorale outoriteit in die biskopgebied van Maitland-Newcastle in Australië van Michael John Malone aanvaar,” het die Vatikaan in ‘n verklaring gesê.
Malone is sedert 1995 hoof van dié biskopgebied, maar het onlangs gepraat oor sy uitputting ná ‘n reeks aantygings van kindermishandeling deur heiliges in dié biskopgebied.
Die beweerde mishandeling dateer terug tot voor sy benoeming as hoof van die gebied.
Kritici meen die Katolieke Kerk probeer gevalle van pedofilie toesmeer.
Die Newcastle Herald-koerant het vroeër vanjaar vir Malone aangehaal: “Ek is emosioneel uitgeput deur wat gebeur het en ek voel ontnugter.”
Die 71-jarige het ook gesê hy oorweeg ‘n vroeë uittrede, vóór die amptelike pensioenouderdom vir Katolieke biskoppe, wat 75 is.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP