Australiese LP staan tereg op 149 aanklagte van bedrog
2013-01-31 16:33
Sydney – Die polisie in Australië het Donderdag ‘n parlementslid, wat daarvan aangekla is dat hy vakbondgeld op prostitute, vliegkaartjies en uitspattige etes spandeer het, in hegtenis geneem.
Hy staan ook tereg op 149 aanklagte van bedrog, het berigte gelui.
Die LP, Craig Thomson, het geweier om homself oor te gee en hy is by sy verkiesingskantoor in Nieu-Suid-Wallis in hegtenis geneem, het die Sydney Morning Herald die polisie aangehaal.
Hy is op borgtog vrygelaat en sal op 6 Februarie in die hof verskyn.
Thomson is verlede jaar gevra om uit die regerende Arbeidersparty te bedank weens die aantygings. Hy het sedertdien onafhanklik in die politiek gedien.
Sy inhegtenisname kom slegs een dag nadat die premier, Julia Gillard, bekendgemaak het dat die algemene verkiesings in September gehou sal word.
Die polisie ondersoek al vir meer as ‘n jaar aantygings dat Thomson geld wat aan die Gesondheidsdienste-vakbond behoort het, op prostitute en vermaak spandeer het en kontantonttrekkings van Aus$100 000 (R940 000) gemaak het.
Die aantygings hou verband met toe Thomson nasionale sekretaris van die vakbond was voordat hy ‘n LP geword het.
Die 48-jarige het die aanklagte teen hom ontken toe hy in ‘n hof in Wyong vir ‘n borgtogaansoek verskyn het.
“Alles in my skree uit om te sê hoe verkeerd dit is,” het die Herald hom aangehaal.
“Soos ek van die begin af sê, ek het niks verkeerd gedoen nie,” het hy gesê.
“Ek sal hierdie aanklagte ten sterkste beveg.”
Die klagstaat beweer hy het ‘n kredietkaart gebruik om in Februarie 2003 vir prostitute te betaal, het die Australian Associated Press berig.
Gillard het geweier om kommentaar te lewer oor Thomson se inhegtenisname en ontken dat sy vooraf geweet het die polisie gaan hom in hegtenis neem, berig AAP.
Die Sydney Morning Herald sê Thomson sal uit die parlement verwyder word as hy skuldig bevind word aan ‘n kriminele oortreding met ‘n vonnis van een of meer jare tronkstraf.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP