Australië wil dalk haaie uitdun
2011-10-24 06:57
Sydney – Die owerheid in Australië het Sondag jag gemaak op ’n haai wat vroeër ’n Amerikaanse duiker aan dié land se weskus verskeur het. Daar word ook oorweeg om dié groot mariene roofdiere uit te dun.
George Thomas Wainwright (32) van Texas is verskeur deur ’n drie meter lange witdoodshaai terwyl hy Saterdag besig was om naby Perth se Rottnest-eiland te duik.
Wainwright was al vier maande in Australië met ’n werksvisum, het die polisie aan AFP gesê. Ooggetuies het ’n klomp borrels gesien voor Wainwright se lyk met afgryslike beserings op die oppervlak verskyn het.
Dit was die derde noodlottige haai-aanval aan dié kus in twee maande.
Vissery-amptenare het gesê ’n opdrag om die haai dood te maak is uitgereik en ses lokaas-lyne is opgestelom die betrokke haai te vang.
Die premier van Wes-Australië, Colin Barnett, het gesê hy sal dit oorweeg om haaie te laat uitdun, asook die instelling van meer patrollies, lugpatrollies, die oprigting van haainette by strandgebiede en ’n vermeerdering van die aantal haaie wat vissers kragtens wet mag vang.
Daar is baie haaie in Australiese waters, maar noodlottige aanvalle is seldsaam. Daar was in die afgelope 20 jaar tot Junie 2009 net 24 sterfgevalle. Grootwithaaie is skaars mariene roofdiere, wat meer as 6,4 m lank kan word. – Sapa - AFP
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad