Australië: Asiel-kinders probeer selfmoord pleeg
2011-05-28 14:27
Sydney – Kinders wat as asielsoekers in Australië aankom maak hulself dikwels doelbewus seer en probeer selfs selfmoord pleeg terwyl hulle deur die regering aangehou word.
‘n Australiese mediese vereniging het Saterdag gesê dokters vind sommige kinders, jonger as 10 jaar oud, wat in aanhoudingsentrums in Darwin opgesluit is, met wonde aan hul lywe deur hulself veroorsaak.
“Daar was definitief al gevalle van poging tot selfmoord, selfs jong kinders wat op eetstakings gegaan het,” het die hoof van die vereniging se departement in noordelike Australië, Paul Bauert, gesê.
Terwyl die Australiese regering probeer om asielsoekers, wat per boot uit alle oorde in die land aankom, so gou as moontlik in gemeenskapsbehuising te plaas, moet talle jonges lank in aanhouding bly.
Die regering het belowe om alle kinders uit die sentrums te kry voor maandeinde, maar Bauert meen die proses gebeur te stadig.
“Ons weet dat 95% van hierdie kinders as Australiese burgers gaan opeindig. Al wat ons doen, is om hulle te beskadig,” meen hy.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP