Aus: Talle uit vloedwater gered
2013-01-25 09:55
Sydney – ‘n Tienerseun is uit stygende vloedwater gered terwyl hy Vrydag aan ‘n boom vasgeklou het, terwyl ander mense uit motors en huise gered is nadat swaar reën in die noordooste van Australië tot oorstromings gelei het.
Sowat 20 mense is Donderdagaand en vroeg Vrydag in Sentraal-Queensland gered nadat die tropiese sikloon Oswald swaar reën in die kusstad Rockhampton veroorsaak het.
In een voorval is ‘n vrou en twee kinders uit ‘n motor in vloedwater gered. Sewe mense is ook uit twee oorstroomde huise gered.
Beamptes sê ‘n tienerseun is gelukkig om te lewe nadat hy gevind is waar hy in Frenchville, sowat 525 km noordwes van Brisbane, aan ‘n boom vasgeklou het.
“Die stroom was so sterk, dit het hom net meegesleur,” het ‘n stasiebeampte, Brett Williams, aan die Australiese Uitsaaikorporasie (ABC) gesê.
Die man wat die seun gered het, is self onder die water ingetrek nadat hy die seun aan reddingswerkers oorhandig het, maar het later veilig onder in die stroom uitgekom.
Sikloon Oswald, wat nou afgegradeer is, het riviere laat oorstroom en genoeg reën laat val om dorpe van die buitewêreld af te sny. Rockhampton het Donderdag sy hoogste daaglikse reënval sedert 1939 gehad.
“Hulle sê dit is nie ‘n sikloon nie, maar dit is nie ver daarvan af nie,” het Bill Ludwig, ‘n raadslid van Rockhampton, aan ABC gesê. Hy het bygevoeg dat dele van die stad onder water is, en dat die winde “baie vernietigend” is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA