Aus: Koeler weer help met veldbrande
2013-01-09 11:27
Cooma – Rekordtemperature in die suide van Australië het Woensdag begin daal, wat dit vir brandweerpersoneel makliker maak om verskeie veldbrande oor die land heen te bestry.
Australië het Maandag sy warmste dag ooit beleef, met ‘n nasionale gemiddeld van 40,33ºC.
Dinsdag was die derde warmste dag op rekord, teen 40.11ºC. Vier van Australië se 10 warmste dae ooit was vroeg in 2013.
“Daar is geen twyfel nie. Hierdie is 'n baie ekstreme hittegolf,” het David Jones, ‘n weerkundige, gesê.
“As jy kyk na die omvang, die duur en die intensiteit is dit dalk die mees noemenswaardige hittegolf in Australië se geskiedenis.”
Geen sterftes is al gerapporteer nie, hoewel 100 mense nog nie by amptenare aangemeld het sedert 90 huise verlede week in Dunalley vernietig is nie.
Lisa Stingel, ‘n polisiewoordvoerder, het gesê mense het waarskynlik net vergeet om aan te meld.
Duisende beeste, skape en wild is glo al in die veldbrande dood.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP