Assange wend hom tot Engeland se hoogste hof
2012-01-31 12:04
Londen – Julian Assange, stigter van WikiLeaks, se verhoor van twee dae by Engeland se appèlhof skop Woensdag af.
Dít is sy jongste poging om sy uitlewering aan Swede, waar hy op aanklag van verkragting teregstaan, te beveg.
Indien Assange se poging by dié hof onsuksesvol is, het die 40-jarige Australiër al sy opsies in Brittanje uitgeput, maar in 'n laaste poging kan hy hom tot die Europese hof vir menseregte in Straatsburg, Frankryk, wend, het staatsaanklaers gesê.
Die appèlhof het in Desember Assange se aansoek om verlof tot appèl toegestaan.
Volgens die hof het sy saak "groot openbare belangstelling" ontlok, veral oor die kwessie oor of Swede se staatsaanklaer die reg gehad het om die lasbrief, waarkragtens Assange aangehou is, te onderteken.
Die saak sal deur sewe, in plaas van vyf, regters oorweeg word.
Die appèlhof neem gewoonlik tien weke om uitspraak te lewer, maar partye het versoek dat dié saak vroeër afgehandel word.
Woensdag is dit 421 dae sedert Assange se inhegtenisname. Hy woon onder streng borgtogvoorwaardes in 'n herehuis van 'n skatryk ondersteuner in Norfolk, Engeland.
Assange is in Desember 2010 in Brittanje in hegtenis geneem nadat twee vroue bewerings van seksuele molestering en 'n verkragting wat in Swede plaasgevind het, aan die lig gebring het. Assange ontken dié bewerings.
Volgens hom het die vrouens ingestem om seks te hê en die bewerings is polities gemotiveerd en hou verband met WikiLeaks se vrystelling van honderde geklassifiseerde Amerikaanse dokumente oor die oorloë in Irak en Afganistan.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP