Asielsoeker in Indonesië doodgeskiet
2011-03-14 18:00
Banda Aceh - ‘n Noorse man van Indonesiese afkoms is deur ‘n groep skieters in ‘n minibus doodgeskiet toe hy sy tuisdorp in die Aceh-provinsie besoek het, het die polisie gesê.
Die 45-jarige Hanafiah Ahmad woon die afgelope 12 jaar in Noorweë. Asiel is in dié land aan hom toegestaan toe hy van ‘n seperatiste-oorlog van drie dekades in die noorde van Indonesië se Sumatra-eiland gevlug het.
“Ahmad was saam met vriende by ‘n kosstalletjie toe hy deur skieters, wat in ‘n minibus gery het, geskiet is,” het Elin Tang Jaya van die polisie gesê.
Die motief vir die aanval word nog ondersoek.
Laevlak-misdaad, wat gewapende roof en polities gemotiveerde skietaanvalle insluit, kom steeds in dié provinsie voor, ondanks die einde van die seperatiste-oorlog, wat ongeveer 15 000 lewens geëis het, in 2005.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP