Argentynse goewerneur by vakansiehuis doodgeskiet
2012-01-01 21:07
Buenos Aires – Die goewerneur van Argentinië se Rio Negro-provinsie, die land se voormalige spioenasiehoof, is in 'n skietvoorval dood wat op Nuwejaarsdag by sy vakansiehuis in Patagonië plaasgevind het, het amptenare Sondag gesê.
Carlos Soria, 61, was net 'n paar weke lank die goewerneur van dié suidelike provinsie toe hy om ongeveer 05:00 plaaslike tyd by sy huis naby die dorp General Roca geskiet is. Hy is na 'n hospitaal geneem, waar hy later dood is.
Sy adjunk, Alberto Weretilneck, wat nou die goewerneur word, het in 'n radio-onderhoud gesê dit lyk of die skietvoorval die gevolg is van 'n "huishoudelike ongeluk," en het gesê "dit sal die regstelsel se werk wees om te bepaal wat gebeur het."
Weretilneck het gesê Soria se vrou was die enigste ander mens wat ten tye van die voorval by die huis was. Amptenare sê hy het nie selfmoord gepleeg nie.
Soria was 'n lid van die regerende Peronist-party en voormalige hoof van die Argentynse intelligensiedienste.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP