Argentinië bal vuis oor Falkland-eilande
2013-01-03 16:02
Londen – Argentinië se president het Donderdag daarop aangedring dat Brittanje afstand doen van die Falkland-eilande, wat sowat 500 km van die kus van Argentinië geleë is.
Cristina Fernandez de Kirchner het ‘n ope brief aan David Cameron, premier van Brittanje, in die Guardian laat publiseer waarin sy Brittanje van blatante kolonialisme beskuldig.
Die eilande staan in Argentinië as die Malvinas bekend.
“Die Malvinas-eilande is 180 jaar gelede, op dieselfde datum, 3 Januarie, tydens ‘n blatante uitvoering van 19de-eeuse kolonialisme, met geweld van Argentinië afgeneem. Die eilande is meer as 14 000 km weg van Londen,” het De Kirchner in die brief gesê.
Brittanje het in 1833 beheer oor die eilande geneem.
Argentinië en Brittanje het in 1982 ‘n kort oorlog op die eiland gevoer ná Argentinië die eilande binnegeval het. Meer as 900 mense is in die konflik dood – die meeste van hulle Argentyne.
Brittanje se departement van buitelandse sake het Donderdag egter in ‘n verklaring gesê die mense van die Falkland-eilande is Brits, en het gekies om Brits te wees.
Die departement het bygevoeg dat daar geen onderhandelings oor die heerskappy van die eilande sal wees nie, tensy die inwoners van die eilande daaroor wil onderhandel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP