Angolese presidentsdogter rykste vrou in Afrika
2013-01-25 13:28
Johannesburg – Isabel dos Santos, die oudste dogter van die Angolese president, Jose Eduardo Dos Santos, is Afrika se eerste vroue-miljardêr, het Forbes-tydskrif berig.
Die 40-jarige het haar eerste sakeonderneming in 1997 in die hoofstad Luanda begin – ‘n restaurant genaamd Miami Beach. Sy is nou op die rade van verskeie maatskappye in Angola en Portugal.
Sy het ‘n aandeel van 28% in ZON, Portugal se grootse TV-maatskappy.
Dos Santos besit ook 19,5% van Banco BPI, een van Portugal se grootste banke, berig Forbes.
Sy het verskeie maatskappye in Angola, insluitend ‘n aandeel van 25% in een van die land se twee telekommunikasiemaatskappye.
“Daardie aandeel alleen is minstens $1 miljard (R9 miljard) werd, volgens verskeie telekommunikasie-ontleders,” het Forbes gesê.
Angola se 27 jaar lange burgeroorlog het in 2002 geëindig en die land het sedertdien een van Afrika se hoof-uitvoerlande geword.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA