Amokmakers se sexy rokkies haal museum
2010-07-16 08:39
Kaapstad - Die kort, oranje rokkies wat ’n groep vroue verlede maand by die Wêreldbeker-sokkerwedstryd tussen Nederland en Denemarke by Soccer City gedra het, gaan in Amsterdam se geskiedenismuseum uitgestal word.
Die Nederlandse dagblad De Telegraaf berig die museum het besluit om die omstrede rokke by sy uitstallings te voeg want dit was die “treffer van die Wêreldbeker-sokkertoernooi”.
Hester Gersonius, museumwoordvoerder, het gesê die rokke stel oorspronklikheid, kreatiwiteit en astrantheid voor.
Dit is “kenmerke wat eie aan Amsterdam, asook die museum is”.
Fifa se handelsmerk-polisie het meer as 30 Nederlandse vroue vir sowat drie ure ondervra ná hulle met die sexy rokkies by die stadion opgedaag het.
Volgens Fifa, wat biervervaardiger Budweiser as een van sy hoofborge gekies het by sokkerstadions, was die Bavaria-rokkies "onwettige bemarking en teen die wet in Suid-Afrika."
Aanklagte teen die vroue is 'n week later laat vaar.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA