Amerikaners het gedink aardbewing is terreuraanval
2011-08-24 22:56
Washington – Die aardbewing van 5,8 op die Richterskaal wat die Amerikaanse ooskus Woensdag geskud het, het sommige mense laat dink dit is ’n terroriste-aanval.
Dit was een van die kragtigste aardbewings wat dié kus sedert 1897 getref het.
’n Dag ná die skudding was skole in Washington steeds gesluit en inspekteurs besig om die omvang van die skade wat aan nasionale monumente aangerig is, te bepaal.
Niemand is dood of beseer in die aardbewing nie, berig BBCNews.
Ingenieurs is besig om krake in die Washington-monument te bestudeer en sommige federale kantoorgeboue is gesluit.
Een van die geboue wat die ergste onder die aardbewing deurgeloop het, is die 100 jaar oue Nasionale Katedraal in Washington.
Drie sluitstene het afgebreek en krake het in sommige mure verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.