Amerikaner hét vrou, 5 kinders vermoor
2009-09-23 10:28
Tampa, Florida - Die Amerikaanse man wat die naweek in Haiti in hegtenis geneem is vir die moord op sy gesin, het skuld op alle aanklagte teen hom erken.
Mesac Damas is in aanhouding in Naples, Florida, ná Haïtiaanse owerhede hom Maandag oorgelewer het.
Terwyl Damas onder begeleiding die tronk in Naples verlaat het, het hy skuld op die aanklagte teen hom aan ’n verslaggewer van die Naples Daily News erken.
"Ja, ek het hulle doodgemaak," het Damas gesê. "Ek gaan langs my familie begrawe word."
Amerikaanse polisie het Saterdag op die lyke van Damas se 32-jarige vrou en hul vyf kinders in ’n huis in Naples afgekom.
Damas is die naweek in Port-au-Prince, Haiti, in hegtenis geneem vir ondervraging.
Die 33-jarige moordenaar het Vrydag ’n vlug van Miami na Haiti gevat.
Lede van die Amerikaanse polisie het die volgende aand die lyke van sy vrou en vyf kinders ontdek.
Die kinderslagoffers was drie seuns, onderskeidelik nege, ses en vyf jaar oud, ‘n driejarige meisie en ‘n elf maande oue babadogtertjie.
Die paartjie het ‘n geskiedenis van huishoudelike probleme en geweld gehad.
Owerhede het nie bekendgemaak hoe die slagoffers vermoor is nie. ’n Naasbestaande het egter gesê hulle kele is afgesny.
- Sapa-AP