Amerikaanse tiener sterf in fratsongeluk
2012-09-02 08:01
Fort Lee, New Jersey – 'n Amerikaanse tiener wat na 'n verjaardagpartytjie op pad was, is in 'n fratsongeluk dood toe hy sy kop deur die noodluik van 'n dubbeldekker-bus gedruk het op die presiese oomblik wat dit onderdeur 'n ander pad in New Jersey gery het, het die polisie gesê.
Daniel Fernandez, van Sayreville, New Jersey, was een van 65 tieners in die bus toe dit Vrydagaand die George Washington-brug by New York oorgesteek het, het Al Della Fave, woordvoerder vir die New York- en New Jersey-haweowerheid, gesê. Die 16-jarige is by 'n nabygeleë hospitaal dood verklaar.
Die ongeluk het op die Interstate 95-hoofweg plaasgevind.
Alex Franco, 'n sekuriteitswag op die bus, het aan die Daily News gesê hy het die tieners gewaarsku om die luik nie oop te maak nie.
"Ek het drie of vier keer vir hulle gesê om nie die luik oop te maak nie, maar kinders verstaan nie," het hy gesê.
Designer Transportation, die maatskappy wat die bus besit, het gesê die ongeluk sal intern ondersoek word. Die maatskappy het sy medelye met die seun se familie betuig.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP